Juliana M. Pistorius. Musiek, interdissiplinariteit, en die dekoloniale opsie
Die ervaring en interpretasie van die musikale oomblik is fundamenteel talig. Wanneer mens dít wat jy hoor omskakel in gedagtes of beelde skop ‘n transdissiplinêre vertalingsproses in—‘n oorgang van klanke tot woorde; van een verwysingsveld tot ‘n ander. Dit is bloot onmoontlik om oor klank te dink of praat sonder om hierdie vertalingsproses te onderneem. Musiek kan alleen maar interdissiplinêr ervaar word.
Musikoloë en uitvoerende musici maak lank reeds staat op narratiewe en taalkundige konsepte om die struktuur en samestelling van musiek te omskryf. Hulle praat van musikale sintaks, van frases bestaande uit stellings en antwoorde, van die grammatika van ‘n musikale teks. Dit is ‘n benadering wat veral ingebed is in die strukturalisme van die eerste helfte van die twintigste eeu en die verwetenskapliking van musikale studie. In stede van ‘n esoteriese omgang met geestelikheid en gevoel, stel die letterlike ‘ver-taling’ van musiek ‘n stel konkrete metafore voorop waardeur die musikale oomblik begryp kan word. Só word die musikale ervaring tot teks-objek omskep—iets wat oopstaan vir beskrywing en analise.
Die tradisionele interdissiplinêre benadering tot musiek word egter gekondisioneer deur ‘n Eurosentriese epistemologiese projek gebou op ideale van wetenskap en rasionaliteit. Dit konsolideer veral ‘n positivistiese oorweging wat staatmaak op idees van sistematisering, meetbaarheid, en klassifikasie. Interdissiplinariteit in hierdie konteks word dus ‘n uitgroeisel van ‘n Westerse hegemoniese benadering tot kennis, waardeur uiteenlopende kulture, praktyke, en ervarings gereduseer word tot ‘n stel normatiewe konsepte.
Binne die huidige, en noodsaaklike, fokus op dekolonisasie, moet ons onsself afvra of die interdissiplinêre verhouding tussen musiek en letterkunde iets kan beteken vir ‘n dekoloniale agenda. Indien wel, wat? En hoe sou die interdissiplinêre benadering tot die sogenaamde objek van studie—die ‘ding’ waaroor ons praat—moet verander om by te dra tot dekoloniale denke binne die letterkunde en die musiek?
In ‘n stuk getiteld ‘Epistemic Disobedience: Independent Thought and De-Colonial Freedom’ (2009), skryf Argentynse letterkundige Walter Mignolo oor die basiese struktuur en doelstellings van die dekoloniale projek. Vir Mignolo gaan dekolonialiteit daaroor om die hubris of the zero point—die hoogmoed van nul—te verwerp. Dit stel ten doel om die ideologiese onderbou van kennis te ontbloot, en om die hiërargie tussen verskillende benaderinge bo ander te bevraagteken.
Die dekoloniale opsie gaan daaroor om te vra hoe die studie-objek geïdentifiseer en geklassifiseer word, en watter paradigmas gebruik word om daaroor te dink. Dit vra dat dinge nie geweeg word volgens hoeveel hulle ooreenstem met of verskil van sogenaamde ‘norme’ nie, maar eerder dat alternatiewe maniere van dink en doen oorweeg word as ‘norm’. Dekolonialiteit is met ander woorde nie ‘n ontwesterende praktyk nie; dit wil nie van alles ontslae raak wat Westers is nie. In stede daarvan, kies dit om alternatiewe te soek vir die sogenaamde normatiwiteit van die Weste.
Binne die musiek het die dekoloniale opsie veral betrekking op musiek-as-vorm. Ek het reeds uitgewys dat musikale vormgewing en struktuur veral staatmaak op Westerse normatiewe aannames rakende narratiwiteit en sintaks. Daarbenewens omskep dit musikale praktyke tot tekste, en dring dit aan op die klassifiseerbaarheid van die musikale objek. So ‘n benadering trek dus duidelike grense rondom die musikale produk: dit word geïdentifiseer, geklassifiseer, en omskryf.
Heelparty nie-Westerse kulturele praktyke respekteer egter nie die grense tussen verskillende kunsvorme nie. Op die Afrika-kontinent, byvoorbeeld, beskou verskeie kultuurgroepe musiek, teater, dans, geskiedskrywing, en poësie as een ding—deel van ‘n gemeenskaplike kreatiewe praktyk wat deur outeur Zakes Mda beskryf word as ‘the common festival’. Die idee van musiek as individuele genre of vorm pas nie binne so ‘n intermediale raamwerk nie.
Ons vind onsself dus teenoor ‘n ontologiese vraag: wat maak ‘n vorm? Wat is musiek? Wat is letterkunde? In die pre- en postkoloniale Suider-Afrikaanse konteks lyk dit nie net asof die antwoorde op hierdie vrae verskil nie, maar asof die vrae self verkeerd is. Die uitdaging word dan om die institusionele inbedding van so ‘n multi-vorm te bestuur; om ‘n taal te vind waarin daaroor gepraat kan word, sonder om terug te val in Westerse konsepte en norme. Is dit moontlik om te praat oor ‘n tipe kulturele uitdrukking wat terselfdertyd musiek én letterkunde én teater is? Kan ons oor literatuur en musiek praat as één dissipline? Die dekoloniale opsie word ‘n poging om verby die normatiewe Westerse genre-indelings van musiek en letterkunde as dissiplines te dink.
Tans kan die sterkste voorbeeld van so ‘n benadering gevind word in die uitstekende werk wat oor podiumpoësie en sy verskeie subvorme, insluitend dub en rap, gedoen word. Hier word die onderskeid tussen musiek en poësie uiteraard geproblematiseer. Maar ongelukkig vind ‘n groot hoeveelheid van hierdie werk steeds plaas binne tradisionele dissiplinêre paradigmas, waarbinne die optredes óf as poëtiese óf as musikale tekste oorweeg word. ‘n Dekoloniale interdissiplinêre benadering tot sulke voorbeelde reik verby ‘musikale’ of ‘letterkundige’ perspektiewe, en probeer om ‘n nuwe blik te vorm wat ingelig is deur epistemologieë van buite die Weste.
Hier, dan, lê die dekoloniale potensiaal van die interdissiplinariteit: in die afbreek van grense tussen genres, in die omarming van alternatiewe epistemologieë, en in die ontwikkeling van woordeskatte om aan hierdie maniere van weet uiting te gee.