Alwyn Roux. Samespraak, Stilet en Schaffer (2022)
Aan die einde van 2022 het Samespraak se spesiale Stilet-uitgawe verskyn, waarin gefokus is op die navorsingswerk van Samespraaklede, sowel as die kreatiewe, akademiese en vertaalwerk van Alfred Schaffer. Laasgenoemde het nie slegs aandag verkry in ‘n akademiese artikel wat prof. Yves T’Sjoen geskryf het oor Schaffer as brugbouer tussen Suid-Afrika, die Lae Lande en Aruba nie, maar ook in die Stilus-afdeling van Stilet, waarin ‘n hele aantal digters repliek gelewer het op ‘n oorspronklike skryfstuk van Schaffer.
Die artikels wat verskyn het, sluit in
Sticky Drama en asof geen berge ooit hier gewoon het nie : klimaatpoëzie in actie deur Francine Maessen;
Die grense van die Heideggeriaanse woonbegrip in refreine van 'nomadismes' in Die beginsel van stof (2011) deur Alwyn Roux;
Bruggen bouwen met Alfred Schafer: over liminaliteit en de culturele tussenruimte deur Yves T’Sjoen; en
De betoverde berg en Het zwijgen van Mario Salviati van Etienne van Heerden: Tussen magisch realisme en misdaadroman deur Jessica Van Wynsberge.
Schaffer in Stilus
Ek het aanvanklik vir Alfred Schaffer gevra of hy as die skrywer-in-residensie van Samespraak (2021) ‘n kreatiewe skryfstuk aan ons sal voorsien. Daarna het ek vir Schaffer toestemming gevra om die gedig aan te stuur aan ander digters om daarop repliek te lewer. Dit is een ding om ‘n gedig te interpreteer met behulp van ‘n close reading as deel van ‘n akademiese artikel. Dit is egter hoegenaamd iets anders om ‘n gedig met ‘n gedig te beantwoord.
Die gedigte wat verskyn het, sluit in:
privacy deur Alfred Schaffer
ook Alfred's land deur Antjie Krog
Ons mompel, maar in hoofletters deur Daniel Hugo
IK BEN NIET DIK, IK HEB ENKEL ZWARE BEENDEREN, EN IK BEN NIET DOOD, IK KAN ENKEL BETER BLIJVEN LIGGEN ALS IK MEER AARDE OVER MIJ HEENTREK deur Nachoem Wijnberg
Je ogen moeten wennen aan deur Marius Crous
Poor boys en kestrels deur Nathan Trantraal
privacy deur Ryan Pedro
Semper fidelis deur Peter Verhelst
Tee en optics deur Ronelda S. Kamfer
Vir Alfred Schaffer deur Joan Hambidge
Ek het al vanuit talle oorde gehoor dat Schaffer se werk moeilik is om te interpreteer, dat dit sigself nie vasgevang wil laat word nie. Dit het by my die vraag geopper of sy gedigte nie juis met gedigte beantwoord wil word nie. Wanneer gedigte oor gedigte geskryf word, skep dit ‘n sekere eggo, waarin die leser kan gaan ondersoek instel oor die wyse waarop die een gedig die ander hoor. Ek beplan vervolgens ‘n aantal essays oor die wyse waarop die nege digters repliek gelewer het op Schaffer se gedig en die insigte wat hierdie eksperiment opgelewer het.