Stefaans Coetzee. Gedigsiklus
Gesprek
Is jy okay? Voel hoe nat is jy.
Praat met my.
Dis ek, nè? Te dik. Te oud.
Of die geld! Ek sal minder –
nee – nee, ek ken julle mans, hoe jonk is sy?
Dis die tronk, nè? Wat het daar gebeur?
Jirre, praat met my ...
*
Nuwe begin
Ek kniel tussen die grafte
– vier –
miere klim berg oor my skoene
wat letsels oor ’n gemeenskap getrap het
– diep –
soos vergifnis van ’n moeder terwyl ’n moordenaar vry loop
om môre oor te begin soos die sondaar na sy doop.
*
Dis al
Jy is slegs elf dae oud
en hulle vonnis my tot lewenslank –
’n ewigheid sonder jou
en die regter sê dis al.
In CMAX maak hulle die reëls:
6 foto’s, 1 X driekwart uur besoek (agter glas),
2 briewe, 2 oproepe van tien minute elk,
dis al.
Nie weer die geur van jou melkkoppie
nie die streel van jou satynvelletjie
nie vingertjies wat my duim toevou nie
niks nie, want
dis al.
Hierdie jaar matrikuleer jy
hierdie jaar laat hulle my vry
en ek wonder; gaan jy ook vir my sê:
Pappa, dis al.